top of page

VIS-EMBLEEM  (<><)  VIR  VISVOETE STAPKLUB

Die vis simbool was die eerste Christelike simbool en is vanaf die tweede tot die vierde eeu as die mees algemene simbool deur Christene gebruik.   Volgens verskeie bronne was hierdie simbool om ‘n paar redes gebruik.  

 

1)  Jesus het verskeie kere in sy prediking na vis verwys:  (Kyk bv. Mark. 1:7, Mat. 12:40, Mat. 14:17, Luk. 5:6, Luk. 24:42 en Joh. 21:16)..        

 

2)  Die Griekse simbool vir Alpha, die eerste letter van die Griekse alfabet “α”, lyk baie soos die vis simbool en dit is dan in verband gebring met Openbaring 1:8 en 22:13   “Ek is die Alfa en die Omega ....”. 

 

3)  Vis was ‘n gewilde kos van daardie tyd.   

 

4)   Die vroeë  Christene is deur beide die Romeine en Jode vervolg en volgens oorlewering het Christene hierdie teken met die voet op die grond gekrap om hulle sodoende aan mede Christene te identifiseer.   Gewoonlik is die boonste deel van die vis simbool deur die een persoon geteken en indien die ander persoon ook ‘n Christen was, het hy die onderste gedeelte bygevoeg om die vis simbool te voltooi.   As die regte reaksie nie van die ander persoon ontvang word nie, kon die teken dan weer maklik met die voet uitgewis word.  

 

5)  Later het Christene ook waarde begin heg aan die woord “vis” as sulks.   Die Griekse woord “Ichthys” is die mees algemene woord wat in die Nuwe Testament vir die woord vis gebruik word.   Dit bestaan uit vyf letters in die Griekse alfabet tewete   I – ch – th – y – s (ΙΧΘΥΣ).   Hierdie is dan as akroniem gebruik om die woorde Iesous  Christos  Theos  Yios  Soter te vorm wat in Afrikaans vertaal kan word as Jesus Christus, God se Seun, Verlosser.

Sedert die vierde eeu het die kruis egter die vis simbool vervang as die belangrikste Christelike simbool, maar die vis is steeds ‘n baie belangrike Christelike simbool en persone wat vandag die vis simbool vertoon bely steeds, soos die vroeë Christene, dat Jesus Christus die Seun van God, ons Verlosser is.

 

Let daarop dat die vis simbool altyd van regs na links kyk, maw. dat die vis se kop altyd na die linkerkant wys.

Aan die hand van die voorafgaande word die vis simbool in die embleem vir die Visvoete Stapklub geïnkorporeer.

 

Die betekenis van die kleure wat gebruik word.

Die groen voetspore verteenwoordig ons groen voetspore wat ons in die natuur nalaat.   Dit, saam met die groen omraming, dui egter ook op die kleur groen, wat die  grootste gedeelte van die kerkjaar, tewete die ses weke na Epifanie en die vier-en-twintig weke van Koninkrykstyd gebruik word en tydens Koninkrykstyd spesifiek op lewe, groei en vooruitgang dui, veral ook in ons geestelike lewens.

 

Die kleure wat vir Kersfees gebruik word is wit en goud om die koms van ons Koning te vier.   Op Paassondag en deur die hele Paastyd is die dominante kleure ook wit en goud.   Kleure van oorwinning en vreugde.   Daarom is die kleur van die vis simbool goud en die agtergrond van die embleem wit om aan te dui dat Jesus die Koning is wat ons oorwinning en vreugde verseker het, wie deur sy Gees in ons woon en sodoende in die “voetspore” wat ons in hierdie lewe laat sigbaar word.

Dieprooi is die kleur wat gebruik word gedurende die groot Lydensweek vanaf Palmsondag tot die Donderdag voor Goeie Vrydag.om die bloed van Jesus Christus te simboliseer. Die dieprooi waarin die stapklub se naam verskyn is dan ook simbool van die bloed van Jesus Christus wat vir ons sonde en tot ons redding aan die kruis gestort is.

Die belydenis van die Visvoete Stapklub word vervat in Romeine 10:9.  “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

bottom of page